UNIWRSITYT: Wat jy moet weet

Oorsig

“Ek kan my skaars ’n belangriker boek voorstel” – Antjie Krog

Al ooit gewonder wat werklik gebeur op universiteit, wat jy moet weet om jou universiteitslewe ’n sukses te maak, of watter kursus die beste by jou pas? In hierdie omvattende eerste uitgawe van UNIWRSITYT word hierdie vrae en nog vele meer deur top akademici beantwoord, sonder om doekies om te draai. Temas soos finansies, diversiteit, balans, Suid-Afrikaanse werklikhede, en die lewe ná universiteit daag huidige en potensiële studente uit om kernvrae te beantwoord voordat hulle daarmee op universiteit gekonfronteer word. ’n Moet vir elkeen wat hul universiteitslewe op die regte voet wil afskop.

Inhoud & Skrywersbio

Resensie

Elke ouer met ’n kind wat binnekort klaarmaak met skool, en elke onnie wat Lewensoriëntering gee, behoort onmiddellik ’n kopie van Uniwrsityt wat jy moet weet aan te skaf. Die boek is tjokvol feite en praktiese wenke om die lewe op universiteit makliker, en selfs meer pret, te maak. Selfs al lees die aanstaande student net Jonathan Jansen se vertellings oor dit wat hý op die harde manier op universiteit moes uitvind, sal dit al vir pa, ma en die bankbestuurder beter laat slaap. Voeg daarby Ruda Landman, van Carte Blanche¬¬-faam, se pittige hoofstuk oor die noodsaak om genoeg te dans én te werk, en enige aanstaande student is reeds beter gewapen vir die lewe na skool.

Antjie Krog het oor dié publikasie gesê: “Ek kan my skaars ’n belangriker boek voorstel.” Dis moeilik om met Krog te stry, so ek sal liefs nie. Veroorloof my dus om te vertel waarom ék dink die boek is belangrik.

Ten eerste is die teks pragtig. Die uitgewers en ontwerpers het uit hulle pad gegaan om ’n moderne, wakker benadering te volg sodat die teikenmark – jong studente en skoolverlaters – hierby aanklank sal vind. Dalk is die jeugdige ouderdom van Gabbema eienaars hiervoor verantwoordelik, maar hulle moet gelukgewens word. (Ruda Landman het laggend gesê Johan Fourie is nog ’n “kind”.) Vanaf die vreemde (maar funky) titel, tot die lynsketse en die halftitelblad se grensdeurbrekende uitleg, is alles duidelik ingestel om die jonger mark te betrek.

Ten tweede is die inhoud werklik interessant. Ek wil my verstout om te sê dat baie skoolverlaters nie elke bladsy sou wou lees nie (en hulle hoef ook nie), maar vir dié van ons wat het, was dit werklik aangenaam om soveel bekendes met soveel gesag oor ’n gekose onderwerp te sien praat.

En dit bring my by die derde rede waarom ek dink hierdie boek is ’n wonderlike belegging in ’n skoolverlater se lewe: Johan Fourie het uit sy pad gegaan om kenners te kry om oor die onderskeie onderwerpe te praat. Tim Noakes, Willie Esterhuyse, Ruda Landman, Marinus Wiechers, Jonathan Jansen, Theuns Eloff, TT Cloete, Anton van Niekerk… En daar is nog. Elkeen van die mense is gevra om te skryf oor onderwerpe wat vir húlle na aan die hart lê.

Prof Estian Calitz, nog ’n groot naam, verduidelik byvoorbeeld, op ’n manier wat ’n leek soos die uwe kan verstaan, hoe en wanneer ’n graad ’n finansiële belegging in die toekoms kan wees. Hy vat die aanstaande student, en die arme ouers, ook stapsgewys deur die proses om te begroot vir die jare op universiteit. (Dit, alleen, is ’n rede waarom elke ouer hierdie teks moet koop.) Wie is Estian Calitz? Hy is ’n voormalige Direkteur-Generaal Finansies in die Suid-Afrikaanse staatsdiens; ’n kwalifikasie wat maak dat hy waarskynlik weet waarvan hy praat!

Ek sou egter elke skrywer kon neem en verduidelik waarom sy/hy ’n goeie keuse was, maar dis onnodig (Hierna volg wel ’n opsomming van elke hoofstuk vir die wat belangstel).

Het ek kritiek op die teks? Ja, tog. Minder belangrik, dalk, maar dit moet genoem word. Was ek in beheer van die regie, sou ek die inhoud effens geskommel het om seker te maak dat van die meer toeganklike, en uiters belangrike, staaltjies vroeër vertel word. Johan Fourie (die samesteller) se voorwoord is kort en pittig, maar dan word die leser gedompel in twee redelik akademiese vertellings oor die universiteit as ’n konsep en die geskiedenis daarvan. Albei is baie goed geskryf en uiters interessant, maar hulle mag die moed breek van diegene wat pas hulle eindeksamen moes skryf. Reeds het ek na Jonathan Jansen se stuk verwys. Dit is ’n uitsonderlike stukkie wysheid wat met Jansen se kenmerke humor en nederigheid geskryf is, maar dit word redelik diep weggesteek en mag dalk gemis word deur lesers wat nie belangstel in die Opvoedkundige Wetenskappe nie.

Ek temper egter my eie kritiek deur te sê dit is baie goed dat hierdie boek lesers voorberei op dit wat wag – nie net inhoudelik nie, maar ook vormlik. Uniwrsityt sal waarskynlik die heel eerste akademici geskrif wees wat skoolverlaters sal lees, want, anders as talle ander selfhelpboeke, dompel Uniwrsityt die leser midde in die diskoers wat op sy/hy op universiteit te wagte sal wees. Dit is ’n akademiese werk, vir voornemende akademici, deur ons land se voorste akademici. My kritiek is dus glad nie gemik teen die ínhoud van die teks nie, ek sou dit net effens makliker wou maak vir skoolverlaters om by die pitkos uit te kom. My nering, tans, is die skep van tekste vir skoolkinders en ek weet hoe ver die graad 12-teks verwyder is van die tipiese eerstejaarteks.

In die jare toe ek nog klasgegee het aan ’n universiteit, het ek die eerstejaars aangemoedig om selektief te leer lees en in te zoem op dít wat van belang is. In hierdie resensie wil ek dus ook aan voornemende lesers sê: Beskou dit as jou eerste akademiese ervaring. Wees skaamteloos selektief in wat jy lees, maar léés dit!

  1. Begin by Ruda Landman. Sy sê jy móét partytjie hou. Dis in hoofstuk 3.
  2. Lees net daardie stukkies in hoofstuk 4 oor die beroepe waarin jy belangstel.
  3. Blaai na hoofstuk 10 en lees meer oor die keuse van ’n studierigting.
  4. Nou vir ’n snaakse een: Lees Jonathan Jansen in hoofstuk 4, al stel jy nie belang in opvoedkunde nie. Dis een van die beste stukkies raad wat jy óóit kan kry oor die universiteit.
  5. Nou kan jy maar eers gaan fliek, en lees dan die stuk oor ’n begroting in hoofstuk 6.
  6. Lees hierna die res stukkie vir stukkie. Dit gaan jou oneindig baie help, want op universiteit gaan jy deur veel moeiliker goed moet ploeg wat baie minder interessant is.

Uniwrsityt bevat inligting oor al die universiteite, en die universiteite van tegnologie, in ons land, nie net die bekendes nie. Vir diegene wat belangstel, heg ek hieronder ’n baie bondige opsomming van elke hoofstuk aan.

Koop dit. Die teks kan dalk net die beste belegging in jou kind se toekoms wees.

Izak de Vries